KOPSKOOT!
(Vertaling van die Muse Magazine artikel - Desember 2008)

Hoewel dit nie altyd op die oog af so voorkom nie, het Afrikaans-sprekende musikante ‘n groot rol gespeel in Suid-Afrika se Alternatiewe musiek toneel – en ons praat nie nou van die Voëlvry dae nie…

Meeste bands sing in Engels (gewoonlik met die hoop dat hulle dalk ‘n kans oorsee sal staan). Stadig maar seker het hierdie persepsie verander en al hoe meer groepe gebruik nou hul hoogs ekspressiewe moedertaal.

Daar word gereeld neergesien op Afrikaanse musiek as goedkoop, soetsappige en smaaklose drek (‘n musikale stand van sake wat nie beperk is tot ons land nie, maar wat die hele planeet vervuil). Maar, weggesteek deur ‘n kommersiële sluier is daar hardwerkende musikante met ‘n drang om af te wyk van die voorspelbare, sinnelose hoofstroom, en musiek maak wat die wyer publiek nie noodwendig te hore sal kry nie – tensy hulle avontuurlustig genoeg is om hierdie juwele te gaan soek en vind, aangesien dit nie op top 40 radio en kommersiële TV gegooi word nie.

Diegene wat aangetrokke is tot hierdie baanbreker genaamd Kopskoot! is in vir ‘n groot ding. Hierdie historiese versameling swaar Afrikaanse musiek sluit in lewende legendes, nuwe bloed, SAMA-wenners en -genominerdes regoor die Alternatiewe spektrum - van Hard Rock, Metal, en Hardcore, tot Industrial, Grindcore, Hardcore Techno, Elektroniese avonture en meer.
Hierdie plofbare 16 ton pakket sluit alles in van die eerste ware harde Afrikaanse song wat in Suid-Afrika opgeneem is deur Metal-voorvaders Voice Of Destruction (V.O.D) in die middel-‘90s, tot die organiese en digitale samesmelting van nuwe ekstremiste André Van Der Walt. Nog ‘n band wat Afrikaanse musiek in ‘n heel nuwe rigting gestuur het sedert die begin van hierdie millennium is K.O.B.U.S., met sy kern-lede van Francois (V.O.D) en Theo (Springbok Nude Girls) wat stelselmatig na hul Metal wortels teruggekeer het, veral met hul 2007 album Swaar Metaal.
Verwag die Fokofpolisiekar manne se Van Coke Kartel projek, puik Metal van Mind Assault, hammerende Grindcore van Insek, NuL se elektroniese rewolusie musiek, en F8 se Tekno-Grind.
Ons kan natuurlik nie vergeet van Battery 9 se kenmerkende Industrial klanke nie. Hierdie versameling sien ook die toevallige virtuele reunie van Battery 9 se oorspronklike lede met hul verskeie projekte – dit sluit in groot-baas Paul se Breinskade, en At se Somerfaan (met ‘n eksklusiewe remix). Huyser & Arnaud se Helsinki projek maak ook hier sy wêreldwye debuut op CD.
Ander rare verskynsels sluit in die Amerikaans-Tokyo Hardcore-Thrashers Conquest For Death met ‘n snit spesiaal vir Kopskoot! opgeneem in Afrikaans, asook ‘n snit in Vlaams van die Belgiese band Lion’s Pride (‘n taal baie na aan Afrikaans).
Tussen al die testosteroon is daar ook ‘n bietjie skoonheid (met ‘n harde sy) in die vorm van Terminatryx - die enigste groep op die CD met ‘n (vurige) vroulike sanger.

Dit is egter nie waar dit ophou nie. Kopskoot! gaan op ‘n gereelde grondslag Alternatiewe classics en die nuwe generasie extreme Afrikaanse musiek saamstel. Maar, elke vrystelling gaan ook gevolg word deur ‘n DVD vol mal videos, lewendige beeldmateriaal en ekstras (die eerste maak sy verskyning vroeg-2009).

Wees voorbereid dat jou kop weggeblaas gaan word!











© 2008 - 2009 Flamedrop Productions